Slagyster

Sy vang my so onkant
Soos n yskoue emmer water
Of soos daai belangrike afspraak wat jy vergeet het
Jou wiskunde huiswerk
Jou 25ste Huweliksherdenking

So kom herhinneringe
So kom verlange

Ek verlang na elke kaalvoet kaskarongeluk
Na elke swaai van die Kennekie lat
Na elke Woensdagaand se Highlander TV programme
Na elke NG Kerk Sondagoggend langs die sinkplaatpad
My pa se “smoke-breaks”,
tussen deur gebede en kollekte opname

Soos toe Oom Japie daai jakkals in die slagyster gevang het
So het sy my
Ek herleef Airwolf en McGyver
Tolgooi en rugby
Namaqwaland se vael sportvelde (The real survivor)
Bitterfontein se Blomme-Trein
My pa se sweet op sy voorkop terwyl hy nog n trailer aan mekaar sweis
Kaalvoet tok-tokkie
Elke disseltjie pyn
Skerpioene jag
Die reuk van my pa se duiwehok
Die trane as ek wegkyk terwyl my pa skape slag
Die duiker, die dassie en die springbok

O waar is ons Weskus visvang vakansies!
Kreef duik saam met Worsie Visser
Kettie skiet en Blou Kop Koggelmanders
Potbrood, Meerkatjies en Groen Rivier Mond se branders

Maar soos Oom Japie die jakkals moes skiet
So moet ek haar die nag in help
Tyd beweeg vinnig, maar herhinnering stadig
Ek glimlag terwyl my seuntjie my oë terug trek na die hede
Ek hoor sy stem en my hart voel versadig

Hoe gee n mens eer aan n herhinnering?
Hoe maak ons seker iemand word verewig onthou?
Wie onthou namens my oupa, of sy pa en sy pa?
Wie waardeur gister se pyn? Gister se rou?
Waar plak mens die pleister,
vir gister se seer?
Sonder om myself te verbyster,
besef ek net U kan my Heer.
U sal ons onthou.
U sal ons stories skryf.
Elke traan is op U hart gekerf.
Van voor geboortedag, en verewig na die dag ons sterf.
U onthou elke soen, elke hand wat geskud is.
Elke mens wat ek geken het
U onthou ek en my broer se “gun-gun” speeletjies rondom die plaashuis

en wie gewen het.

Related Articles

Responses